HOEVEEL VERLOF KAN EK KRY?

SALE OF IMMOVABLE PROPERTY AND THE NATIONAL CREDIT ACT
March 25, 2014
TENANT AND LANDLORD: WHAT ARE YOUR RIGHTS AND OBLIGATIONS?
March 25, 2014

verlofCoco is onseker of sy geregtig sal wees op betaalde verlof. Sy is ‘n voltydse sekretaresse en werk reeds meer as ‘n jaar vir die nuwe maatskappy. Luidens die Wet op Basiese Diensvoorwaardes 75 van 1997, is jaarlikse verlofvoordele nie van toepassing op werknemers, insluitend huishulpe, wat minder as 24 uur per maand werk nie. Dit beteken dat diensvoorwaardes van tydelike werknemers en onafhanklike kontrakteurs ook onder hierdie wet val.

Kragtens die Wet, loop ‘n werknemer se jaarlikse verlof op. Dit beteken dat die werknemer se verlof maandeliks aanwas. Verlof loop op teen ‘n koers van een uur verlof vir elke 17 ure gewerk, of een dag verlof vir elke 17 dae gewerk, of anders gestel, 1,25 dae per maand. Die totale toegelate minimum is 15 werksdae per jaar met volle salaris in elke jaarlikse verlofsiklus of in elke tydperk van 12 maande, bereken vanaf die datum van indiensneming.

Die Wet maak melding van 21 opeenvolgende dae. Naweke word ingesluit, wat beteken dat die werknemer eintlik 15 werksdae kry aangesien ‘n “normale” werkweek bestaan uit vyf dae.

Dit is belangrik om daarop te let dat die Wet bepaal dat die aanwas van toepassing is op die tempo van een dag vir elke 17 dae waarop die werknemer gewerk het of geregtig was om voor betaal te word. Openbare vakansiedae word beskou as werkdae aangesien werknemers op daardie dae vergoed word as sou die dae normale werkdae wees wat derhalwe ingesluit word in die berekening van jaarlikse verlof.

Siekteverlof word op ‘n soortgelyke wyse hanteer. Indien die werknemer betaalde siekteverlof gehad het word daardie dae ingesluit by die berekening van jaarlikse verlof, tensy die werknemer nie meer siekverlofdae beskikbaar het nie of met onbetaalde siekteverlof was, in welke geval hierdie dae uitgesluit word vir die doeleinde van die berekening.

Dit is algemene praktyk vir sommige werkgewers om maandeliks ‘n bedrag af te trek van die tydelike werker of onafhanklike kontrakteur se loon en dit tot die werknemer se voordeel in ‘n sogenaamde “verlofrekening” te hou wat dan ten tye van die werknemer se verlof uitbetaal word. Hierdie praktyk is egter onwettig en die werkgewer sal skuldig wees aan oortreding van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes asook aan bedrog omdat hy die werknemer ontneem van ‘n wettige reg op betaalde jaarlikse verlof en betaalde siekteverlof. Slagoffers van so ‘n wanpraktyk kan die werkgewer dagvaar vir skadevergoeding.

Daar is geen bepaling dat werknemers nie hul jaarlikse verlofdae opeenvolgend mag neem nie. Coco word beskou as ‘n voltydse werknemer omdat sy vir ten minste ‘n jaar lank meer as 24 uur per week vir die maatskappy gewerk het en dus sal sy kwalifiseer vir 15 opeenvolgende dae verlof.

Ons kan dus vir Coco gerusstel. Sy sal in staat wees om die vakansie van ‘n leeftyd te geniet!

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.