BASIESE REGISTRASIES EN NAKOMING VIR BESIGHEDE

THE LIQUIDATION OF A COMPANY OR CLOSE CORPORATION
April 16, 2014
KANSELLASIE VAN DAARDIE GIMNASIUMKONTRAK
May 20, 2014

A1_BVir enige besigheid wat in Suid-Afrika sake doen, is dit ‘n uitdaging om op die hoogte te bly van alle vereiste registrasies en nakoming wat deur wetgewing en ander regulering voorgeskryf word. Hier volg ‘n opsomming van die mees algemene registrasies en nakoming wat op die meeste besighede van toepassing is.

  1. Jaarlikse opgawes en jaargelde (Maatskappye): Enige maatskappy wat by die CIPC geregistreer wil bly, moet jaarliks gedurende die maatskappy se verjaardagmaand ‘n opgawe van inligting by die CIPC indien en ook die gepaardgaande jaargeld betaal. (www.cipc.co.za)
  1. Inkomstebelasting: Enige onderneming wat handel dryf moet by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) as ‘n belastingbetaler registreer, hetsy as individu/eenmansaak, maatskappy, trust, of enige ander persoon. Jaarliks moet hierdie onderneming ‘n inkomstebelastingopgawe (IB12 of IB14) voltooi en indien. Verder moet daar elke ses maande voorlopige belasting bereken en ‘n opgawe (IRP6) ingedien word, en indien nodig, moet enige verskuldigde bedrag ook betaal word. Nie-nakoming kan aansienlike boetes tot gevolg hê. (www.sars.gov.za)
  1. Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW): Indien die jaarlikse omset van die onderneming R1 miljoen sal oorskry, moet die onderneming vir BTW registreer. ‘n Vrywillige registrasie kan gedoen word indien die omset meer as R50 000 per jaar sal wees. BTW-opgawes moet gewoonlik elke twee maande ingedien word en, indien nodig, moet enige verskuldigde bedrag ook betaal word. (www.sars.gov.za)
  1. Werkloosheidsversekering: Indien ‘n onderneming werknemers in diens het, moet die onderneming as werkgewer vir werkloosheidsversekering registreer. Maandelikse opgawes vir betaling moet ingedien word. ‘n Bedrag gelykstaande aan een persent van die salarisse van werknemers is deur die werkgewer betaalbaar, en ‘n verdere een persent deur die werknemer. (www.labour.gov.za)
  1. Werknemersbelasting: Indien enige van die werknemers van ‘n onderneming se vergoeding die perk in die Belastingwet oorskry, moet die onderneming as werkgewer vir LBS (lopende betaalstelsel) registreer. Die belasting moet maandeliks van sodanige werknemers se vergoeding afgetrek word en aan die SAID oorbetaal word tesame met die indiening van die nodige opgawes. Daar moet ook twee keer per jaar ‘n LBS-rekonsiliasie (IRP501) opgestel en by die SAID ingedien word. Jaarliks moet daar saam met die LBS-rekonsiliasie ook IRP5-sertifikate vir alle werknemers uitgemaak word. (www.sars.gov.za)
  1. Vaardigheidsontwikkelingsheffing: Indien die totale jaarlikse salarisrekening van die onderneming R500 000 oorskry, of indien die onderneming meer as 50 werknemers het, moet die onderneming ook vir die vaardigheidsontwikkelingsheffing (SDL) registreer, en moet daar ook maandeliks opgawes ingedien en die nodige heffing betaal word. (www.labour.gov.za / www.sars.gov.za)
  1. Vergoedingskommissaris: Enige onderneming wat werknemers in diens het, ongeag die vergoeding wat vir sodanige werknemers betaal word, moet as werkgewer vir ongevalleversekering by die Departement van Arbeid registreer. Die onderneming moet jaarliks ‘n opgawe by die departement indien en word dan aangeslaan teen ‘n persentasie van die totale salarisrekening van die onderneming. Werknemers wat aan diens beseer word, kan dan vergoeding van hierdie fonds eis. (www.labour.gov.za)
  1. Gelyke Indiensneming: ‘n Onderneming wat meer as 50 werknemers in diens het, of wat die gestelde drempel van jaarlikse omset vir die spesifieke sektor waarin dit handel dryf, oorskry, moet elke twee jaar ‘n gelyke indiensnemingsplan opstel en by die Departement van Arbeid indien. (www.labour.gov.za)

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.