KANSELLASIE VAN DAARDIE GIMNASIUMKONTRAK

BASIESE REGISTRASIES EN NAKOMING VIR BESIGHEDE
May 20, 2014
THE CONSUMER’S RIGHTS UNDER THE CONSUMER PROTECTION ACT
May 20, 2014

A2_BAlmal van ons het al Nuwejaarsvoornemens gemaak.

Hierdie jaar gaan ek begin oefen, gesond eet, minder tyd op kantoor bestee en meer tyd met die gesin deurbring. Om jou voorneme uit te voer, sluit jy dadelik na terugkeer van jou Desembervakansie by die plaaslike gimnasium aan.  Dit pla nie eers of die kontrak vir twee, drie of selfs vier jaar is nie. Hierdiejaar gaan jy by daardie voorneme hou!

Met die aanbreek van die winter bestee jy al hoe meer tyd op kantoor en voor die kaggel en minder tyd in die gimnasium. Teen Augustus herken jy die debietorder van die gimnasium op jou bankstaat, terwyl jy goed weet dat jy twee maande laas by die gimnasium was.

Die Wet op Verbruikersbeskerming (“die wet”) beperk die effek van ‘n vastetermynkontrak wat ‘n outomatiese hernuwingsklousule vir ‘n verdere vaste termyn bevat. Aangesien die wetgewer wye betekenis heg aan die terme goedere (“goods”) en dienste (“services”) sal die meerderheid vastetermynkontrakte binne die reikwydte van die wet val. Artikel 16 van die wet maak voorsiening daarvoor dat enige verbruiker ‘n langtermynkontrak kan kanselleer met skriftelike kennisgewing van twintig besigheidsdae, tensy die kontrak tussen twee juridiese persone is.

Die wet maak vervolgens voorsiening vir ‘n redelike kansellasieboete (“reasonable cancellation penalty”) wat deur die verbruiker aan die diensverskaffer betaal moet word weens die kansellasie van die vastetermynkontrak. Wat ‘n redelike kansellasieboete behels, sal afhang van die tipe en aard van die kontrak.

Lester Timothy van Deneys Reitz Prokureurs gebruik ‘n voorbeeld wat by die meeste van ons aanklank sal vind. ‘n Verbruiker sluit ‘n tweejaarkontrak met ‘n selfoondiensverskaffer. ‘n Selfoon word gelyktydig aangekoop, die koopprys waarvan maandeliks oor die tweejaartermyn afbetaal moet word. Die diensverskaffer het dus ‘n uitgawe aangegaan wat betref die selfoon.  Sou die verbruiker die kontrak kanselleer, is dit derhalwe aanvaarbaar dat die diensverskaffer die uitstaande balans van die selfoon as ‘n redelike kansellasieboete hef ten einde sy onkostes te verhaal.

Waar ‘n verskaffer geen noemenswaardige ekstra koste moet dra as gevolg van kansellasie van die kontrak nie sal die verskaffer afslag aan die verbruiker moet gee ten einde ‘n redelike kansellasieboete vas te stel.

Jy kan dus die gimnasium nader en skriftelik twintig werksdae kennis gee van jou voorneme om die kontrak te kanselleer. Afhangend van die bewoording in die kontrak en die oorblywende  kontraktermyn, sal jy ‘n redelike kansellasieboete moet betaal. Aangesien die gimnasium nie beduidende ekstra koste aangegaan het as gevolg van die kansellasie nie, sal jy geregtig wees op ‘n afslag op die oorblywende termyn van die kontrak.

Onderhandel oor die kansellasieboete met die gimnasium. Jy sal verras wees wat ‘n onmiddellike betaalaanbod as ‘n kansellasieboete kan vermag. En koop eerder hardloopskoene volgende jaar, selfs al is hulle duur. Hulle sal geduldig in jou klerekas wag tot die volgende Nuwejaarsdag…

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.