VERKEERSBEAMPTE LÊ BESLAG OP JOU SELFOON: WAT MOET JY WEET?

THE CONSUMER’S RIGHTS UNDER THE CONSUMER PROTECTION ACT
May 20, 2014
UITBREIDING VAN ‘N DEELTITEL EENHEID: WAT U MOET WEET
June 2, 2014

A4_BSedert 2011 het die Stad van Kaapstad: Verkeers Ordonnansie, 2011 dit moontlik gemaak vir ‘n gemagtigde beampte om jou sellulêre toestel te konfiskeer indien jy betrap word wanneer jy dit in jou motor gebruik terwyl jy bestuur. Hier is ‘n paar belangrike feite om te onthou sodat jy kan seker maak dat al die regte prosedures gevolg word wanneer op jou sellulêre toestel beslag gelê word.

Die Stad van Kaapstad: Verkeers Ordonnansie, 2011 (hierna “die Ordonnansie”) verbied eerstens die bestuur van ‘n motorvoertuig op ‘n openbare pad terwyl jy ‘n sellulêre of mobiele telefoon of enige ander kommunikasietoestel met enige deel van jou liggaam vashou en tweedens, die gebruik van ‘n sellulêre of mobiele telefoon of enige ander kommunikasietoestel terwyl jy bestuur, tensy dit aan die voertuig vasgemaak is (soos ‘n handvrye stelsel).[1]

Volgens die Ordonnansie mag ‘n gemagtigde beampte in die belang van publieke veiligheid ‘n kommunikasietoestel konfiskeer, mits hy die eienaar inlig oor die redes daarvoor. Hy moet ‘n kwitansie aan die eienaar uitreik wat die plek waar sy eiendom teruggeëis kan word, aandui, en hy moet alle prosedures wat in enige beleid van die stad oor konfiskering en beslaglegging vervat is, volg.[2] Die beleid van toepassing in die Stad Kaapstad is bekend as die Standaard Werkproses op die Beslaglegging van Goedere en Diere, 2012.

‘n Gemagtigde amptenaar wat in terme van enige Ordonnansie van die Stad optree, moet ‘n kwitansie aan die oortreder gee vir enige eiendom wat verwyder en op beslag gelê is. Hierdie kwitansie moet die volgende aandui:

  • ‘n Lys van die eiendom wat verwyder is;
  • die toestand van die eiendom (want die eiendom moet teruggegee word in dieselfde toestand as waarin dit was toe dit verwyder is);
  • die adres waar die eiendom geberg gaan word;
  • die ure waartydens die goedere afgehaal mag word;
  • die maksimum tydperk vir die berging van die eiendom voordat daarmee weggedoen kan word;
  • die voorwaardes vir die vrystelling van die eiendom waarop beslag gelê is;
  • die naam en kantoornommer van ‘n raadsamptenaar aan wie enige betoog oor die beslaglegging gerig kan word;
  • die afsnydatum en -tyd vir die rig van die betoog;
  • die terme en voorwaardes van die verkoop van eiendom wat nie teruggeëis is nie, per openbare veiling.[3]

Die Stad mag enige nie-teruggeëisde sellulêre stelsel negentig dae na die beslaglegging per openbare veiling verkoop wat in die plaaslike koerante geadverteer is. Munisipale amptenare en raadslede, hul gades, familie en kennisse mag nie hierdie eiendom koop nie. Fooie mag gehef word vir die berging van die sellulêre toestel, asook enige ander koste wat deur die raad aangegaan is in die tydperk van beslaglegging. Hierdie fooie word deur die raad bepaal en mag van tyd tot tyd aangepas word. Fooie en boetes moet by die Raad se kontantkantoor tussen 08:00 en 16:00 op Maandag tot Vrydag betaal word.[4]

Eiendom mag aan die eienaar of sy/haar verteenwoordiger teruggegee word op voorlegging van bewys van betaling van alle fooie wat met die beslaglegging verband hou en enige boetes wat tydens beslaglegging opgelê is. Eienaars of hulle verteenwoordigers kan hul eiendom afhaal tydens die tye en op die plek aangedui in die skutkennisgewing wat op die oortreder bedien is.[5]

Beamptes van die Stad moet redelike stappe neem om enige skade aan eiendom waarop beslag gelê is, te voorkom, maar hulle sal nie verantwoordelik wees vir enige skade wat aan die eiendom gerig is waar ‘n redelike sorgsplig uitgeoefen is nie. Digitale foto’s moet van alle goedere waarop beslag gelê is, geneem word.[6]

‘n Persoon wat ‘n bepaling van hierdie Ordonnansie oortree, pleeg ‘n misdryf en ‘n persoon wat so ‘n misdryf pleeg, is by skuldigbevinding aanspreeklik vir ‘n boete of gevangenisstraf van nie meer nie as 3 jaar, of beide.[7] 

Verwysingslys

  • Die Stad van Kaapstad: Verkeers Ordonnansie, 2011.
  • Standaard Werkproses op die Beslaglegging van Goedere en Diere, 2012.

[1]A 38(1) van die Stad van Kaapstad: Verkeers Ordonnansie.

[2]A 38(4) van die Stad van Kaapstad: Verkeers Ordonnansie.

[3] A8, A9 van die Standaard Werkproses op die Beslaglegging van Goedere en Diere, 2012.

[4]A10, A11 van die Standaard Werkproses op die Beslaglegging van Goedere en Diere.

[5]A12 van die Standaard Werkproses op die Beslaglegging van Goedere en Diere.

[6]A16 van die Standaard Werkproses op die Beslaglegging van Goedere en Diere.

[7]A39 van die Stad van Kaapstad: Verkeers Ordonnansie.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.