UITBREIDING VAN ‘N DEELTITEL EENHEID: WAT U MOET WEET

VERKEERSBEAMPTE LÊ BESLAG OP JOU SELFOON: WAT MOET JY WEET?
May 20, 2014
THE INTERPLAY BETWEEN THE CONSUMER PROTECTION ACT AND THE NATIONAL CREDIT ACT, AND THE POSSIBILITY OF PENALTIES WITH EARLY SETTLEMENT OF CREDIT AGREEMENTS
June 2, 2014

A5_BInwoners van ‘n Deeltitel Skema moet hul onderwerp aan die reëls en regulasies van die Beheerliggaam. Hierdie reëls en regulasies word onderskryf deur die Deeltitelwet.

Wanneer jy van voorneme is om sekere strukturele veranderings aan jou eenheid aan te bring, moet jy daarvan bewus wees dat die Deeltitelwet ‘n proses voorskryf wat gevolg moet word voordat jy met die veranderings kan begin. Veranderings aan jou eenheid wat die grense of vloerspasie vergroot, word as ‘n uitbreiding gesien en moet aan die vereistes van die Deeltitelwet voldoen.

Die proses en vereistes waaraan voldoen moet word volgens die Deeltitelwet word hieronder bespreek.

Stap Een: 

Die Wet bepaal dat daar toestemming van die Beheerliggaam verkry moet word. Dit behels dat die Trustees ‘n algemene vergadering sal belê waartydens ‘n spesiale resolusie aanvaar moet word om die uitbreiding goed te keur. ‘n Spesiale resolusie kan slegs aanvaar word indien 75% van die eienaars teenwoordig by die vergadering toestemming daartoe verleen. Hierdie prosedure kan egter baie tydrowend wees, aangesien die lede 30 dae voor so ‘n vergadering daarvan in kennis gestel moet word. Alternatiewelik kan ‘n spesiale resolusie ook verkry word deur die eienaars individueel te nader en dan toestemming van 75% van al die eienaars te verkry.

Stap Twee: 

Sodra toestemming van die Beheerliggaam verkry is, kan die bouplanne opgetrek word, wat dan deur die Plaaslike Owerheid goedgekeur moet word. 

Stap Drie: 

Hierna moet Deeltitelplanne wat die uitbreiding van die eenheid aandui deur ‘n Landmeter opgestel word. Hierdie Deeltitelplanne moet deur die Landmeter-Generaal goedgekeur word.

Stap Vier: 

Nadat die Deeltitelplanne deur die Landmeter-Generaal goedgekeur is, is dit raadsaam om jou Prokureur te raadpleeg, wat sal toesien dat die registrasie van die gewysigde Deeltitelplanne, asook die notering teen die Titelakte van die verandering in die grootte van die eenheid, aan die Aktekantoor voorgelê word.

Indien daar ‘n verband op die eiendom geregistreer is, moet die Prokureur ook toestemming van die Bank verkry voordat die proses in die Aktekantoor kan plaasvind.

‘n Hereregtekwitansie wat vanaf SAID verkry word, moet ook saam met die dokumente by die Aktekantoor ingedien word. Die hereregtekwitansie moet verkry word. aangesien daar ‘n verhoging in waarde van die eindom is as gevolg van die uitbreiding. Vir hierdie doel moet twee waardasies van eiendomsagente verkry word wat die waarde van die eiendom voor en na verbeterings aandui.

Die Landmeter moet op die Deeltitelplanne stipuleer of die deelnemingskwota van die eenheid nie met meer as 10% vergroot as gevolg van die uitbreiding nie. Indien die deelnemingskwota met meer as 10% vergroot, moet die Prokureur ook die toestemming van elke verbandhouer van ‘n eenheid in die Skema bekom.

Dit is raadsaam dat Deeltiteleienaars voldoen aan hierdie regsvereistes, aangesien ‘n versuim om dit na te kom aansienlike vertragings veroorsaak wanneer die eiendom verkoop word.

Verwysings:

Section 24 of the Sectional Titles Act
Sectional Titles, Share Blocks and Time Sharing, Vol 1, Prof CG vd Merwe
Demystifying Sectional Title, M Constas and K Bleijs
Sectional Title on Tap, Vol 1, Tertius Maree
Article by J Paddock
Article by Rob White

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.